Aangeleenthede Afrika Wêreld Filosofie Afrikaans Ontspanning Algemeen

Die Twyfelagtige Meriete van die Groot Ommeswaai

Nicholas Myburgh
Korrespondensie
5 November 2001

Daar is kommentators wat moeite doen om Marthinus van Schalkwyk se verradelike ommeswaai 'n kleed van politieke fatsoenlikheid te gee. Die NNP-leier se opportunistiese sprong na die Regeringslaer word amper as 'n dapper, visioenere stap voorgehou wat in beginsel deur alle redelike Suid-Afrikaners ondersteun behoort te word. Al voorbehoud is hul ergenis daaraan dat dit nou juis Van Schalkwyk is wat die breuk maak aangesien hy homself in die verlede sterk in die regtervleuel van die NP geposisioneer het, 'n voorbok van die sg. 'Onversetlikes' wat die verligte Roelf Meyer se beste pogings tot swart samewerking ondermyn het. Uit die bloute kom hy nou met 'n skuif moeilik versoenbaar met sy eie politieke en ideologiese stamboom. Hy het nou vreeslik verlig geword. (Dit herinner nogal sterk aan die optrede van sy voorganger.)

Nietemin lewer die dramatiese wegbreekbesluit van die NNP se Federale Raad meer vrae op as wat dit antwoorde bied. Die meer as twee miljoen kiesers wat hulle tot nou toe by die DA geskaar het, en in besonder die NNP-komponent, bevind hulself nou op moed-verloor-se-vlakte. Maar vir “Van Schalkwyk en sy verflenterde bendetjie”, soos Tim du Plessis hulle so raak beskryf, wink die politieke woestyn.

Die argument dat die Suid-Afrikaanse demokrasie versterk sal word deur die verskraling van parlementere opposisie en die versterking van 'n Regering wat reeds oor 'n twee-derde meerderheid beskik maak van die logika 'n uitgediende begrip. Neem verder in ag die relatiewe brose aard van ons demokrasie, die gebrekkige stand van burgerlike instellings as skans vir die demokrasie, en die groeiende apatie onder alle rassegroepe, dan word die wekroep tot ‘samewerkende regering’ 'n gevaarlike dobbelspel wat die wese van ons demokrasie geen guns bewys nie.

Daar is dikwels sedert 1994 verwys na die ‘wonderwerk van die nuwe Suid-Afrika’. Hierdie ‘wonderwerk’ vind manifestasie in 'n wye verskeidenheid van veranderings, aanpassings en innovasies wat talle Suid-Afrikaners daagliks ervaar en deurvoer. Ongetwyfeld die grootste ‘wonderwerk’ van die nuwe SA is die Grondwet wat ons uiteindelik gekry het, maar meer belangrik nog, die feit dat alle politieke partye daaraan trou gesweer het. Die essensiele aard van hierdie grondwet is die klassiek liberaal demokratiese beginsels en waardes wat daarin opgeneem word. Die Regstaat, met al sy meganismes, is tog die konstitusionele uitdrukking van die liberale demokrasie. En enige oppervlakkige studie van die liberale demokrasie maak die student meteens bewus van die fundamentele rol van energieke, selfs robuuste, verdediging van persoonlike, en derhalwe maatskaplike, vryhede.

Sonder die onverpooste en vreeslose strewe na skoon en doeltreffende regering, onafhanklike regspleging, en private ondernemerskap word alle gemeenskappe geleidelik minder vry. Die onvermydelike resultaat van politieke hegemonie is die ineenstorting van dienste en die opskorting van regte. Die viriliteit van ons demokrasie kan nie behoue bly in die afwesigheid van 'n waaksame en beginselvaste opposisie nie. Politieke akteurs (en burgerlike waarnemers)van alle skakerings behoort die pluraliteit van ons politieke landskap te verwelkom mits dit hul erns is dat die demokrasie hier sal slaag. Die politieke assimilasie van eertydse opponente versterk bloot die onaantasbaarheidswaan van die regerende elite terwyl stukrag verleen word aan die idee dat algehele onderhorigheid die enigste maatstaf van vaderlandsliefde is. (Van Schalkwyk poog alreeds om die patriotisme van die DA/DP onder verdenking te plaas nog voordat hy behoorlik in sy nuwe kooi is)

Die selftoegevoegde skade in opposisie-geledere van die afgelope aantal weke word slegs in Regeringskringe (en deur diegene wat hulself amptelik of nie-amptelik in daardie dampkring bevind) verwelkom. Dit is gewoon naïef om te dink dat die kwaliteit van dienslewering, of die integriteit van amptenary, of die bekamping van misdaad en armoede 'n hupstoot sal kry weens die teenwoordigheid op regeringsvlak van enkele Nasionaliste wat in ieder geval heimlik met minagting deur hul nuwe touleiers bejeen word.

Die ANC is meesters van die magspolitiek en die NP van magsoorgawe. Die gevolge van die voorgenome vennootskap is voorspelbaar. Om 'n skyn van versiendheid of strategiese verdienstelikheid daaraan te probeer koppel is enersyds 'n verloëning van ons demokratiese ideale en andersyds 'n kru onderskatting van die publiek se intelligensie.


Vorige Artikel "Manteldraaiers, gatkruipers nou weg"
Volgende Artikel Nasionale Selfmoord van die NP

BO   -   TERUG  -   HOOFBLAD