Aangeleenthede Afrika Węreld Filosofie Afrikaans Ontspanning Algemeen

Myburgh spoel sy bek uit

Nicholas Myburgh
Korrespondensie
21 Oktober 2001

Hierdie besigheid van Marais en die DA bereik darem nou 'n nuwe dimensie van onverkwiklikheid. Laat 'n onverbonde, onpartydige buitestander nou vir jou se: Tony Leon is reg ! Marthinus begaan 'n moerse oordeelsfout deur Marais te beskerm.

Peter Marais IS 'n verleentheid vir die DA (en die NP, for that matter). Hy is NIE geskik vir die topjob in Kaapstad nie. (Vir watter job hy wel geskik is bly 'n ope vraag) Selfs sy eie party moes hom al fire nie so lank terug nie. Toe maak hulle al die goeie werk ongedaan en maak hom Burgemeester, van alle dinge! Skuif toe in werklikheid net die probleem aan na die DA, en noudat die DA met hom wil handel nou gooi Marthinus sy speelgoed uit - watter waansin!

Marais is nie naastenby so belangrik as wat hy dink nie. In elk geval vry hy lankal na die ANC. Laat die gemors loop - hulle verdien mekaar, en dan binnekort sal die ANC ook maar weer die 'probleem' moet hanteer. Hy's 'n egotistiese, opgeblaasde, platvloerse 'fatcat' wat die DA nie kan bekostig nie. Hy het alreeds op eie houtjie die DA se naam gat gemaak in die Kaap - kan Marthinus & Kie dit dan nie sien nie? Voorts, hierdie twak oor Leon se autokratiese bestuurstyl moet nou end kry.

Partyleiers MOET LEIDING gee - op alle vlakke binne 'n party. Wat meer is, die mense wat so huil oor Tony se autokratiese styl het dit vir dekades lank 'sterk leierskap' genoem en verlief daarmee geneem. En laastens, die probleme in die DA is geen botsing van kulture nie, maar gewoon die resultaat van 'n rou magstryd oor die siel van die ter stigte party, maar bowenal wie watter poste gaan beklee.

Hierdie gerugte van NP's wat al klaar 'gesprekke' voer met ANC's steek my dwars in die krop. As ek Tony is stel ek vas wie hulle is en skors hulle onmiddellik. Daai mense moet uit, hoe gouer hoe beter. Jy kan geen opposisie bou teen die ANC met mense wat lidmaatskap van die gespuis oorweeg nie. Die 'closet' ANC's in die NP (maw, die Peter Marais-faksie) moet hul politieke oppertunisme en intellektuele verwarring elders neem. Tony moet sterk staan en Marthinus moet bykom!

Hoe's daai vir bek-uitspoel?


Vorige Artikel Manie Schoeman polities bankrot
Volgende Artikel "Manteldraaiers, gatkruipers nou weg"

BO   -   TERUG  -   HOOFBLAD